
40 JAAR EN STERK OP PAD NA 'n HALWE EEU
“Jy kan nie alles wil opgaar nie! Gooi weg! Ruim op! 'n Muis sal nog kleintjies kry in die chaos.” Wie van ons het nie al self die woorde gebruik nie, of gehoor toe jy kleintyd moes wegdoen met kaste wat oorloop van troetelgoedjies. Die verskoning van opgaarders is altyd: “Sê nou net ek kry dit wel eendag nodig.” So ontdek Heiko Freyer, onder aanmoediging van Harald Metzger, drie uiters waardevolle dokumente vir die belang van die Namibiese Bonsmara se geskiedenis in sy kantoor.
Die eerste was 'n brief getik deur Fonk Genis op dun skryfpapier wat 40 jaar gelede algemeen gebruik was om lugpos briewe mee te stuur. Die brief is gedateer 1 November 1976 en lui as volg: “Hiermee nooi ek u uit na 'n byeenkoms op 25 November 1976 te Safari Motel, Windhoek om 11.00 vm. vir alle Suidwes Bonsmara telers en belangstellendes met die doel om 'n klub te stig. U teenwoordigheid sal waardeer word.” Geteken deur Appie Genis. Wat hierdie brief so waardevol maak, is dat dit 'n skriftelike bevestiging is van die stigtingsdatum en die man wat die stigtingsaksie geïnisieer het.
Die tweede kosbaarheid is die eerste notule getik deur Hertha Heiser, die stigters sekretaresse. Mev. Hertha Heiser het klaarblyklik self erken dat sy onkundig is in die skryf van 'n notule. Onder die “Stigtingsvergadering S.W.A. Bonsmara Klub” opskrif het sy die datum en tyd genotuleer voordat sy al die belangrikste sake puntsgewys aangeteken het, 18 in totaal. Op 'n aanvullende bladsy het sy die 10 die stigterslede teenwoordig se name aangeteken. Desondanks Hertha Heiser se aanvanklike onkunde by die afneem van 'n notule, sou sy vir twaalf jaar die sekretariële en administratiewe take verrig, wat op sigself spreek van haar bekwaamheid en passie vir die Bonsmara ras.
Die laaste kosbare dokument bestaan uit twee bladsye waarin die 8 punt “reëls van die SWA Bonsmara Klub” uitgestippel is en wat opgestel is tydens die eerste komitee vergadering op 8 Desember 1976.
Bonsmara Namibië se ontstaan sal altyd nou verweef bly met Prof. AM Bosman, voormalige hoof van die departement diereproduksie aan die Universiteit van Pretoria wat die ontwikkelingsaad geplant het vir die ontstaan van die Bonsmara ras, 'n vleisbeesras wat aanpasbaar, vrugbaar en produktief is in die semi-droë en droë dele van Suid(er)-Afrika. Prof Jan Bonsma het die saad laat groei deur die ras te ontwikkel. So sal Mnr. EA Galpin se naam bly voortleef as die persoon wat die Bonsmara ras sy naam gegee het in 1943, 'n kombinasie van Prof Bonsma se van en die Mara navorsingstasie. In 1964 het die Bonsmara-beestelersgenootskap onder leiding van mnr. Rex Ball in Suid-Afrika tot stand gekom.
Eerste deel 1970 - 1989:
Die Bonsmara se bestaan in die eerste 40 jaar in Namibië kan in die drie dele verdeel word met die naamsveranderings wat telkemale 'n nuwe tydperk sou inlyf: Die eerste deel begin ses jaar na die stigting van die Bonsmara Vereniging in Suid-Afrika. Die eerste diere word in Suid-Afrika aangekoop en gedurende 1970 gebring na die destydse Suidwes-Afrika deur Peter Beckers wat die Ohoni Bonsmara stoet twee jaar later registreer by Bonsmara SA. In dieselfde jaar registreer Hans Werner en Eva Arnold ook hulle Ondoka kudde by Bonsmara SA en nog diere word aangekoop in Suid-Afrika by Bristow Bonsmara. Eers twee jaar later in 1974 volg die derde teler, Ingo Halberstadt met sy Ongeama kudde. Gedurende die Windhoek Skou van daardie jaar beman Mnr. A de Villiers, Dr Badenhorst en Mnr. Taute 'n stalletjie wat deur Fonk Genis gereël is. Die bemarking was uiters suksesvol, want gedurende 1975 registreer 9 nuwe teler: Fonk Genis (Hy registreer by SA Stamboek, maar nooit by Bonsmara SA nie), WO Heiser van Heida-Zucht, Mev. HWD Thiessen en Seun van Otjimbuku Bonsmara, DJG Visser van Welgeluk Bonsmara, Eckardt Freyer & Seun van Hoanob Bonsmara, EPGW du Plessis van Dismyne Bonsmara, CW Schullenbach van Christiadore Bonsmara, Harald Metzger van Hochfeldstreek Bonsmaras en Dr. H. Scholz van Naos Bonsmaras. Op 8 Junie 1976 is die Bonsmara amptelik aanvaar en as ’n beesras in Suid-Afrika geregistreer. In dieselfde jaar word die “SWA Bonsmara Klub” gestig op 25 November 1976 met Fonk Genis as die fasiliteerder daarvan. Die SWA Bonsmara Klub is nou 'n lid van Bonsmara SA. Op 8 Desember 1976 vind die eerste komitee vergadering plaas waar die 8-punt reëls opgestel is. Teen die tyd is 11 klub lede geregistreer by Bonsmara SA. Die jaar daarna vind die eerste Algemene Jaarvergadering plaas en later dieselfde jaar 'n boeredag op die plaas Ombambi van die Arnold familie waar 45 persone teenwoordig was.
Vervolgens word slegs die telers genoem wat vandag steeds aktief betrokke is by teling: Nog drie lede sluit in 1977 aan, en ses telers gedurende 1987 waarvan KMJ von Dewitz van Von Dewitz Bonsmara (Stokkies Bonsmaras) een was. MT Steyn, die destydse administrateur generaal van SWA verklaar op 6 Julie 1979 te Windhoek dat die Bonsmara 'n beesras is vir teel en algemene doeleindes. Tsumis met Retsu Bonsmaras sluit in 1980 aan en in 1981 sluit die volgende groep van 6 telers aan, onder andere GM Sigwart van Okamaja Bonsmara en APJ Venter van Tzuas Bonsmara. Okomumbonde met Herero Bonsmaras sluit in 1985 aan. HP Deloch van Hochland Bonsmara en JFG Mostert van Moslabon Bonsmara gedurende 1986. T van Tonder van Kommaweer Bonsmara en R Horn van Terra-Rossa in 1987. Sedert 1988 is Yvonne Maree die sekretaresse en gebergde notules is beskikbaar wat gebeure dokumenteer vanaf 1987. Gedurende 1989 word Kyk Weer of “screening” van veilingsdiere ingestel as vereiste en rekenaar programme word deur sommige telers in gebruik geneem. In 1990 is 33 telers van die 45 telers wat sedert 1972 geregistreer het, steeds aktief. 40 jaar later is 14 van hierdie telers nog aktiewe telers.
Tweede deel 1990 - 1993:
Die tweede deel van die Bonsmara se bestaan in Namibië begin in 1990. In pas met die onafhanklikwording van Namibië op 21 Maart 1990, vind 'n naamsverandering plaas na “Bonsmara Klub van Namibië”. Jaarlikse inspeksies neem in aanvang en prestasietoetsing is op die stadium nog in sy kinderskoene. Daar word vereis dat diere vrugbaarheid- en gesondheidstoetse ondergaan voordat hulle aangebied word op veilings. Onsekere politieke toestande laat die ledegetalle krimp. Die Namibiese Stoettelers Vereniging kom in 1992 tot stand met Bonsmara Namibië as een van die stigterslede. Vanaf 1993 vind streeksveilings plaas. Tot en met die einde van 1993 het 48 telers geregistreer by Bonsmara SA en in 1994 is 27 lede steeds aktief. Een van die aktiefste Namibiese lede wat ook op die Bonsmara SA raad gedien het en verskeie jare lid was van die SWA Bonsmara Klub se komitee, was Eckhardt Freyer. Hy dokumenteer ook later die grondwet van die nuut gestigte Bonsmara Beestelersvereniging.
Derde deel 1994 - 2016
Die derde deel neem in aanvang op 1 Desember 1993. Die bestaan van die Namibiese Bonsmara Klub kom tot 'n einde en die “Bonsmara Beestelersvereniging” word gestig, nie met die gedagte om weg te breek van Bonsmara SA as moedergenootskap nie, maar om eie huishoudelike sake in 'n onafhanklike land te bestuur. 16 telers is teenwoordig as stigterslede. Karin Metzger neem vanaf 1994 waar as sekretaresse. Die eerste Senior Keurder Vergadering word in 1995 gehou. D Lusse van Achenib Bonsmara is die eerste teler wat by die nuut gestigte vereniging aansluit in 1996.
George Thomas en Heiko Freyer is fasiliteerders van die stigting van 'n Bonsmara Wêreldfederasie gedurende 1996 en saam dien hulle dan vir 'n volle 10 jaar as Vise Presidente van hierdie vereniging.Hier onder volg puntsgewys van die belangrikste gebeure in die laaste 20 jaar van die Bonsmara se bestaan in Namibië:
- Op 17 September 1997 word die eerste Elite Bonsmara Veiling aangebied te Neudamm. Die veiling was die voorloper van die uiters suksesvolle Bonsmara Nasionale Veiling wat in die jaar daarna onder die nuwe naam voortbestaan. Later sou die veiling verskuif na die Agra/ Bank Windhoek ring. Die Veiling loop in 2010 ten einde.
- Die Landbounavorsingsraad (LNR) voorsien die Bonsmara Beestelersvereniging sedert 1998 met inligting oor teelwaardes. Die eerste Teelwaardes (EBV’s) vir Namibiese kuddes is met behulp van BLUP in 1999 bereken. (BLUP sedert 1997 vir SA bereken)
- Gedurende 1999 is die proses aan die gang gesit om die Bonsmara logo te registreer wat eers in 2003 gefinaliseer word.
- In 2001 word DNA gebruik om ouerskap te bepaal in stede van bloed tipering.
- Vanaf 2003 word data verwerk deur Breedplan en nie meer Stoetmeester nie.
- Hella Coetzee dien sedert 2004 as sekretaresse tot 2009.
- Senior Keurders vul vanaf 2004 inspeksie vorms in tydens die jaarlikse keurings.
- 2004: Die B-Brand word 'n vereiste in Namibië vir alle gekeurde bulle, nes in SA.
- Die Namibiese Bonsmara vereniging se bank sake word vanaf 2007 deur FNB behartig. Voorheen was dit Standard Bank.
- Linda Engelbrecht dien as sekretaresse gedurende 2009.
- In die jaar 2009 word Logix geïmplementeer en Bonsmara Namibië word in 2010 die 34 ste lid van SA Stamboek nadat die data verskuif is van NSV na SA Stamboek.
- Marinda Labuschagne hanteer die administratiewe pligte sedert 2010.
- In 2010 sluit Bonsmara by Team Namibia aan as die eerste beestelersvereniging.
- Skrotum omtrek word verpligtend, moet saam met die 18 maande weging geneem word.
- 'n Nuwe logo vir Namibiese gebruik word ontwerp en vanaf 2011 gebruik.
- Sedert 2011 is dit verpligtend om 'n bul se DNA te bepaal alvorens kalwers aangeteken kan word.
- Die eerste Facebook blad word geskep gedurende 2011.
- In 2011 vind die eerste UNAM Opleidingsdag te Claratal plaas.
- In 2013 beleef die ras die hoogte omset per veiling. Die duurste bul nog word verkoop vir N$ 400 000.
- 2014 het ook die hoogste omset per veiling van alle rasse opgelewer met die duurste bul van N$ 500 000 wat verkoop is.
- 2014: Bonsmara SA vier hul 50ste bestaansjaar.
- In 2015 vind die eerste Opleidingsdag in die noorde plaas tydens die Top 10 veiling.
- In 2016 word die eerste Opleidingsdag vir studente van die Namibiese Universiteit van Wetenskap en Tegnologie en UNAM aangebied.
Van die 85 lede wat geregistreer het sedert 1972 as Bonsmara telers, is 47 steeds aktief in 2016. Verskeie van die kuddes het van eienaar verwissel of 'n afstammeling of erfgenaam van die oorspronklike eienaar het beheer oorgeneem. Enkele van die kuddes waar die aanvanklike eienaar nog self aktief betrokke is, is Hoanob Bonsmara en Christiadore Bonsmara wat beide sedert 1975 lede is en wat geregistreer het nog voor die stigting van die SWA Bonsmara Klub. Ander telers is Okamaja (sedert 1981), Tzaus (sedert 1981) en Hochland Bonsmara (sedert 1986).
Soms gebeur dit tog dat lank bewaarde dokumente wel 'n doel dien! Min geskrewe dokumente rakende die eerste 12 jaar van die Bonsmara se bestaan het behoue gebly, maar mag nog wel bestaan, en hopelik kan hierdie dokumente die geskiedkundige beeld verbreed as hulle gevind word tussen ander sentimentele aandenkings wat veilig geberg word.
Kiewiet Ferreira, president van Bonsmara SA, het in sy 40-jaar feesboodskap genoem dat daar vir die toekoms beplan kan word, omdat die verlede bekend is. Verder: “Jou toekoms word bepaal deur wat jy vandag doen en nie môre nie! Jy kan nie die horlosie terugdraai nie, maar jy kan dit weer opwen.” Mag Bonsmara Namibië die volgende 10 jaar - tot die halfeeu viering van die Bonsmara ras se bestaan in Namibië - met styf gespande horlosies tegemoet gaan!
Opgestel deur Marinda Labuschagne, ‘n eertydse onderwyseres en voltydse tuisbly ma wat sedert 2010 die Namibiese Bonsmara se administratiewe sake hanteer, maar nie roem daarop dat sy ‘n sekretaresse is nie, want sy tik met twee vingers. Dit is haar passie om die Bonsmara wiele goed geolie te hou! Haar man, Boetie Labuschagne, is die eienaar van Moslabon Bonsmaras (sedert 1986) in die Gobabis area.