
Tydens die afgelope jaar is die Bonsmara weereens beloon met uitmuntendheid in die vleisbedryf. SA Stamboek het kuddes uitgesonder wat besondere prestasies behaal het en die Bonsmara was vooreens vooraan. Die toekennings poog om dìe ekonomies belangrikste eienskap vir vleisbees kuddes te bevorder, naamlik vrugbaarheid. SA Stamboek is die instansie wat alle rekordhouding rakende kalwings asook groeisyfers vir stoettelers aanteken en verwerk.
Die SA Stamboekvereniging bestaan uit 64 telersgenootskappe wat 27 bees-, 15 kleinvee-, 16 perde- en 6 telersgenootskappe vir ander spesies insluit. Hierdie telersgenootskappe verteenwoordig die belange van 78 verskillende diere rasse. Behalwe hierdie rasse hanteer SA Stamboek ook die registrasies van 29 ander rasse, naamlik direkte inskrywingsrasse (klein rasse wat nie ʼn telersgenootskap het nie). Die rasse wat in die vleisbeeskategorie deelgeneem het is as volg: Afrigus, Angus, Beefmaster, Bonsmara SA, Bonsmara Namibië, Boran, Braunvieh, Charolais, Dexter, Drakensberger, Gelbvieh, Hugenoot, Nguni, Pinzgauer, Romagnola, Rooi Poenskop, Senepol, South Devon, Hereford, Sussex, en Tuli. (Die oorblywende rasse word deur SA Stamboek gediens en het nog nie eie telersgenootskappe gevorm nie.) Internasionale standaarde word gebruik vir die versameling en verwerking van data, en daarom is dit maklik om data wêreldwyd asook tussen rasse te verstaan en te vergelyk. Elke jaar word uitmuntende diere tydens ‘n simposium aangewys. Telers wat hierdie simposium bywoon kry besondere blootstelling aan internasionale verwikkelinge in die dataverwerkingsbedryf.
Die Bonsmara Beestelersgenootskap van Namibië is baie bevoorreg om vanjaar weer ‘n groot aantal telers onder hierdie prestasietoekennings te mag hê. Meer as die helfte van die Bonsmaratelers het toekennings ontvang, wat beteken dat die Namibiese Bonsmarakudde baie goed vaar in vergelyking met al die ander rasse. (Sien advertensie langsaan). Slegs die beste 30 persent van die kuddes wat aan hierdie produksie aantekeningskema deelneem, word in aanmerking geneem vir toekennings. Hierdie toekennings word oor alle rasse gedoen. Uit hierdie boonste 30% word weereens goud-, silwer- en bronsmerietes toegeken. Van die top 10% wat goue toekennnings ontvang het, word kuddes bykomstig op genetiese vlak ge-evalueer om daaruit tien Platinum kuddes aan te wys.
Die volgende kriteria word gebruik tydens evaluering:
-
- Vrugbaarheid van die koeikudde
- Hoeveel van die diere gebore het geboortegewigte
- Wegings vir speen, 12 maande en 18 maande
- Deelname aan groeitoetse en/of RTU-skanderings
- Gereelde inhandiging van administratiewe data aan SA Stamboek
- Kudde grootte
Kopers kan nie meer bekostig om diere sonder enige syfers te koop nie. Die alombekende "kat-in-die-sak" het eenvoudig te duur geword.
Hierdie jaar vier die Bonsmara Beestelersgenootskap ook sy veertigste bestaansjaar met die leuse "Breeding a Legend". Mag die beesboer van Namibië vanjaar die Bonsmara opnuut raaksien as die "easy-care" beesras en dit as jou beste belegging beskou